
=====================================================================
Duitse toewyding toegespits op Afrikaans (AV 7:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Duitse toewyding toegespits op Afrikaans

Tradisionele persepsies oor Afrikaans se ontstaangeskiedenis word uitgedaag in 'n nuwe studie deur 'n Duitse taalhistorikus Annatjie Louw 
berig hieroor.

DIE vurige liefde vir Afrikaans wat 'n middeljarige Graskopse egpaar nege jaar gelede geopenbaar het teenoor Ana Deumert, 'n jong vrou uit 
Duitsland, het verreikende gevolge gehad: Hierdie besoeker aan Suid-Afrika was so genspireer dat sy tuis dadelik Nederlands gaan leer 
praat het  Nederlands omdat Afrikaans nie beskikbaar was nie. Daarna het sy eers 'n magistergraad en toe 'n doktorale studie oor Afrikaans 
gedoen. Laasgenoemde het sy pas aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.

Dr. Deumert het vertel dat sy destyds gedurende 'n toer deur Lesotho en Suid-Afrika op Graskop siek geword het. Sy het hulp gaan soek by 
die eienaars van die chalets waar sy tuis was. Die egpaar was baie simpatiek, het haar medisyne gegee, tee gemaak en tussendeur het hulle 
aaneen oor hul taal, Afrikaans, gepraat. "Ek het niks ges nie  net geluister hoe hulle hul taal besing. Vandag kan ek nie eens hul name 
onthou nie, maar hul emosionele verbintenis met Afrikaans het my gefassineer en 'n blywende indruk op my gelaat. Ek het nog nie sulke 
gehegtheid aan 'n taal teengekom nie. Terug in Duitsland wou ek meer weet omtrent Afrikaans."

Dr. Deumert het haar tog na Afrikaans begin deur 'n tweejarige universiteitskursus met Nederlands as vak te volg. Dit het sy, nog in 
Duitsland, opgevolg met 'n M.A. studie oor Afrikaanse taalbeplanning tussen 1875 en 1925. 'n Jaar lange aflospos in Duits aan die 
Universiteit van Natal het haar na Suid-Afrika teruggebring. Daarna is sy na Kaapstad, waar sy omgangsafrikaans leer praat het (met 'n 
swaar Nederlandse aksent!) en ook aan die universiteit haar man, Carel van Gend, 'n fisikus, ontmoet het. 'n Doktorale studie onder die 
vermaarde historiese linguis prof. Roger Lass het gevolg.

Die titel van dr. Deumert se taalhistoriese verhandeling is Variation and standardisation: The case of Afrikaans (1880  1922). Oor die 
nuwe gegewens wat haar navorsing oor die geskiedenis van Afrikaans opgelewer het, raak dr. Deumert geesdriftig. "Ek meen dat Afrikaans veel 
langer geneem het om tot taal te ontwikkel as wat tradisioneel geglo word. Ek verskil van die beskouing van menige taalhistorici dat 
Afrikaans 'n relatief uniforme taal was teen 1800.

"My navorsing toon dat 'n ander interpretasie van die tradisonele 18de-eeuse Afrikaanse taaldata moontlik is. Ek meen dat die ontwikkeling 
van Afrikaans sowat 250 jaar geduur het en sou graag 'n gesprek oor die onderwerp aan die gang wou sit."

In haar studie het sy die private briewe van 136 mense betrek. "Hoewel die geskiedenis van Standaardafrikaans goed gedokumenteer is, het 
beskrywings van die periode tussen 1876 en 1925 tot dusver betreklik min aandag gegee aan die taalgebruik in private dokumente. ('n 
Uitsondering is G.J. de Klerk, 1994). Die linguistieke ontleding wat in my studie aangebied word, fokus op 'n nuutgevonde historiese korpus 
van private dokumente (1880 tot 1922). Die geskrifte (wat ook dele uit dagboeke insluit) het in totaal sowat 130 000 woorde opgelewer."

Dr. Deumert praat met groot lof van die skrywer Karel Schoeman. "Ek is baie dank verskuldig aan hom. Hy het my nie net gehelp om my weg te 
vind deur die manuskripversameling in die Suid-Afrikaanse Biblioteek nie. Hy het ook sy kennis en begrip van die Suid-Afrikaanse 
geskiedenis met my gedeel." Dr. Deumert kon haar data met groot vrug vergelyk met di van dr. Jacques Conradie, wat vroer tekste van 
tussen 1739 en 1854 ondersoek het. Hul benadering tot hul data was dieselfde.

"'n Vergelyking tussen sy resultate en myne suggereer 'n situasie van voortgesette variasie eerder as voltooide taalverandering oor die 
betrokke jare. Die 19de eeu was wat my betref 'n belangrike tydperk vir die ontwikkeling van Afrikaans. Variasiepatrone wat vir die 18de 
eeu beskryf is, het produktief gebly tot en met ongeveer die jaar 1900. Die bestaan van sulke voortsettings dui op 'n proses van stadige 
verandering wat tot laat in die 19de en moontlik vroe 20ste eeu uitgebrei het."

Baie verskynsels wat eie is aan die Hollandse sisteem, is steeds deur mense in hul briewe gebruik, maar daar was terselfdertyd ook baie 
variasie. Baie mense het 'n nie-standaardtaal gebruik wat tussen Hollands en Afrikaans was, maar hul taal het struktuur gehad, want die 
variasie was nie los en vas nie.

Dr. Deumert s veral die lees van die briewe tussen 1880 en 1922 was 'n groot belewenis. "'n Mens kom baie na aan die mense van wie jy 
lees, want jy lees intieme gegewens oor hulle. Ek het op die ou end my gunstelinge gehad." Sy is veral aangegryp deur die korrespondensie 
van Mimie Laubscher uit die Hoogenhout-versameling.

"Mimie het in 1909 en 1910 heerlike briewe geskryf aan haar krel Danil Hoogenhout, seun van C.P. Hoogenhout van die Genootskap van Regte 
Afrikaners. Dit was liefdevol, spelerig. Net een van Danil se briewe aan Mimie is in die versameling: die laaste een aan haar, en ook net 
die konsep daarvan. Hy het daarin hul verhouding verbreek. Daarby is nog 'n enkele brief van sy broer waarin hy s dat hy vir Mimie gesien 
het en dat sy duidelik baie swaar kry."

Dr. Deumert het toegewyd probeer vasstel wat van Mimie geword het. "Maar omdat sy waarskynlik getrou het en haar van verander het, kon ek 
haar nie opspoor nie al het ek ure lank die geboorte- en sterfteregisters in die argief deurgelees."

Dr. Deumert het 'n ho agting ontwikkel vir Francois S. Malan. Sy het sy briewe en ook sy dagboeke wat hy getrou tussen 1892  1895 gehou 
het, gelees. "Interessant omtrent hom was dat hy getrou om die beurt sy inskrywings een dag in Afrikaans, die volgende dag in Engels en die 
derde dag in Hollands gemaak het."

Dr. Deumert het ook plesier daaraan gehad om voorbeelde van taalvermenging in die briewe aan te teken. Dis veral die Paarliete wat graag 
Engelse woorde gemeng het met hul Hollands: "zy is een zeer knappe nurse; more moet ik weer gaan call en overmorgen moet ik naar een 
wedding; ons het gegaan met Mr Brink z'n motor bike en side-car; ik zal so like dat jy ver haar ontmoet. Zy is altyd zo bright".

Dr. Deumert het 'n tweejarige navorsingspos van die Universiteit van Heidelberg gekry. Sy sal in daardie tydperk tussen Kaapstad, 
Heidelberg en Namibi pendel. Wat sy nou gaan ondersoek, is die gebruik van Duits in Namibi deur inheemse groepe soos die Nama/Damaras 
(Khoekhoegowab), Herero's en Rehoboth Basters. Dis 'n nuwe veld, aangesien vorige studies oor Namibiese Duits gefokus het op Duitse 
moedertaalsprekers.

Ana Deumert het saam met Rajend Mesthrie en ander Introducing Sociolinguistics geskryf, uitgegee deur Edinburgh University Press, 1999. Dit 
het sy gedoen terwyl sy met die D-studie besig was. Annatjie Louw is vryskutjoernalis.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7222.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 2000 /// Gee kans! Afrikaans se saak groei wreldwyd (AV 7:2) /// 
Trust het miljoene geskenk (AV 7:2) /// Kursus in Afrikaans (AV 7:2) /// Limeriek I (AV 7:2) /// 'Kom ons lees en laat lees' (AV 7:2) /// 
Limeriek II (AV 7:2) /// Vroeg in nuwe eeu (hoofartikel) (AV 7:2) /// In memoriam Ds. Flip van der Westhuizen (AV 7:2) /// Sebrastrepe s 
hul s vir Afrikaans (AV 7:2) /// Oor Afrikaans klap woord en weerwoord (AV 7:2) /// Tyd van liefh het aangebreek (AV 7:2) /// Man met 
swart baret se woorde rinkink (AV 7:2) /// 'Losing my religion' (AV 7:2) /// Taalslordigheid berokken skade (AV 7:2) /// Limeriek III (AV 
7:2) /// 'Etse! Tjeend gaan met grrawater uit!' (AV 7:2) /// Dans uit vergange se dae (AV 7:2) /// Nergensland (AV 7:2) /// Nag vol 
feeste! (AV 7:2) /// Duitser berig in Afrikaans uit Europa (AV 7:2) /// Staande ovasie vir Afrikaans (AV 7:2) /// Duitse toewyding 
toegespits op Afrikaans (AV 7:2) /// Ambassade reik kosbare CD uit (AV 7:2) /// 'Bubbelbad' borrel (AV 7:2) /// Waar's daai gogga? (AV 7:2) 
/// Wind van voor is niks nuuts nie (AV 7:2) /// Afrikaans en die jeug (AV 7:2) /// Hoe praat jy met tieners? (AV 7:2) /// Onthou om nie te 
vergeet nie (AV 7:2)

